 |
|
“Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!”
Psalm 107:1
|
|
Ek het die baie groot voorreg gehad om drie dae saam met John Lennox, die baie bekende wiskundige en apologeet, in die bosveld deur te bring. Alhoewel ek deel van die kosmaakspan was, kon ek saans luister wanneer hy met ‘n paar jong leraars om die kampvuur oor die lewe gesels het. Ons almal het aan sy lippe gehang. Een ding wat ek nooit sal vergeet nie, is toe John gesê het dat hy altyd eerste die laaste vers van ‘n Psalm lees voordat hy die res lees. Hy sê die laaste vers gee in die meeste gevalle ‘n verduideliking van waaroor die Psalm gaan.
Dit is vir seker waar van Psalm 107, my gunsteling Psalm. Die laaste vers lees: “Wie verstandig is, moet op hierdie dinge ag gee, hulle moet let op die Here se dade van trou.”
Die hele Psalm 107 handel oor “hierdie dinge” of “die Here se dade van trou.” Dit is dan ook die tema van ons eerste Revive Our Hearts SA-vrouekamp. Ons gaan kyk na die Here se getrouheid aan sy volk Israel, maar ook aan ons elkeen vandag.
Ek wil jou graag uitnooi om saam met ons te gaan kamp of om ten minste Ps. 107 mooi te gaan deurlees en saam met die Psalmskrywer te juig: “Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie!”
Retha de Villiers
|
|
|
Take Heart! God is Faithful women's camp
|
 |
|
Ons is opgewonde en vol verwagting terwyl ons biddend voorberei om ons eerste amptelike Revive Our Hearts SA-vrouekamp aan te bied: Take Heart! God is Faithful. Die boodskap word al vir ’n geruime tyd in Retha se hart gekoester, en ons kan nie wag vir haar lering en bediening uit Psalm 107 nie. Ons kampgasvrou en mede-aanbieder is Jackie Arndt.
Ons weet dat die Here ’n spesiale opdrag vir hierdie kamp het, en ons wil nie hê jy moet hierdie geleentheid mis om Hom op ’n besondere manier te ontmoet nie. Sal jy nie bid en dit oorweeg om saam met ons te kom nie? Dit is ’n geleentheid om weg te breek, diep geestelik asem te haal en God op ’n ononderbroke en vars manier te beleef.
Ons kampinskrywings is steeds oop, met buigsame betalingsopsies beskikbaar.
As jy self nie kan bywoon nie, hoekom oorweeg jy nie om een van jou geestelike leiers of ’n vriendin te seën nie?
Vir enige verdere vrae of navrae, kontak ons asseblief by sainfo@reviveourhearts.co.za.
|
|
|
Hou moed – God is getrou!
Vroueaand van Aanbidding, Woord en Vernuwing
|
 |
|
Die Weskus het Donderdag 28 Augustus ’n merkwaardige aand beleef toe 221 vroue die saal van Beacon Church, Langebaan, gevul het vir ’n geleentheid wat deur Revive Our Hearts South Africa ondersteun is. Al was dit op ’n weeksdag, was die saal stampvol – ’n duidelike teken van ’n honger na God se Woord en gemeenskap.
Die gees van eenheid en samewerking tussen die ADVANCE-gemeentes van die Weskus, wat ook deurgaans tydens die verloop van die aand teenwoordig was, het bygedra tot die diep betekenisvolheid van die aand. Kerklike leierskap was met visie en omgee betrokke. Mans uit die gemeentes het nederig in die kombuis, by die registrasietafels en agter die skerms gedien, wat geleentheid vir die vroue geskep het om ten volle aan die aand te kon deelneem.
Die hart van die aand het gesentreer rondom Retha de Villiers se boodskap uit Psalm 107 oor die seisoene van die lewe. Met deernis en duidelikheid het sy die waarheid van God se Woord oopgevou en die vroue herinner dat, ongeag die seisoen waarin hulle hul bevind - gebrokenheid, dwaling, pyn, storms of blydskap - God se standvastige liefde konstant bly. Haar lering het ’n diep impak op baie harte gehad.
’n Hoogtepunt was die deurdagte voorbereiding van pragtige refleksieruimtes reg rondom die lokaal. Hierdie stasies het die vroue genooi om stil te word, die Here te soek en hulle harte uit te stort. Dit het Retha se boodskap op ’n tasbare en persoonlike manier bevestig. Die impak van hierdie stasies was duidelik in die getuienisse en dankbetuigings wat ruimhartig gedeel is.
’n Vroue-aanbiddingspan het die byeenkoms by ’n plek van eerbied en ontvanklikheid vir die Gees se leiding gebring. Deur die aand heen het vroue persoonlike deurbrake ervaar – sommige tydens aanbidding, ander terwyl hulle na God se Woord geluister het, ander weer in ’n stil gesprek met ’n vriendin of in die stilte van die refleksieruimtes.
Die aand sou nie moontlik gewees het sonder ’n span gebedsvegters nie. Voorbidders het die geleentheid getrou aan die Here opgedra, nie net in die weke vooraf nie, maar ook gedurende die aand self. Ná die tyd het hulle saam hul dank betuig, terwyl God geloof is vir dit wat Hy gedoen het.
Die beskikbaarheid van Revive Our Hearts-hulpbronne was ook bemoedigend. Verskeie boeke was te koop, en dit was verblydend om te hoor hoeveel vroue reeds met die Bybelstudies van die bediening vertroud was.
Die aand was ’n getuienis van wat gebeur wanneer kerke, leiers, mans en vroue saamwerk tot eer van God: eenheid floreer, lewens word aangeraak, en Christus word vereer.
|
 |
|
Aanbidding |
 |
|
Retha de Villiers |
 |
|
Boektafel
|
|
|
|
|
True Woman '25 - Behold the Wonder
|
 |
|
Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van u wet ervaar.
Psalm 119:18
Dis amper tyd! Behold the Wonder at True Woman ’25 - in persoon of gestroom.
“The Creator of the universe
who hung the sun, moon, and stars by His hand
has spoken to you through His Word. He is still speaking to you through His Word today.
Have you lost the wonder of hearing from Him?
Has reading God’s Word become routine?
Is your study of Scripture stagnant?
What if the problem is not God’s Word, but the condition of your heart?
Hope is here. Get ready to behold the wonder of the Word!”
As jy graag meer inligting wil hê oor die True Women ‘25-konferensie, 2-4 Oktober 2025 in Indianapolis, VSA, kyk gerus na die video hieronder:
|
| True Women '25 |
|
|
|
|
Bekendstelling van nuwe ambassadeurs
|
|
Ambassadeurs help leiers om te volhard in hul onmisbare taak om vroue te bedien.
Hulle is gretig om saam met jou te bid, jou te bemoedig, jou toe te rus en jou te ondersteun terwyl jy dien.
Ontmoet die 6 ambassadeurs van Suid-Afrika:
|
|
Angie Grobler MBOMBELA, SUID-AFRIKA
Angie woon in die warm en sonnige dorp, Nelspruit, in die oostelike dele van Suid-Afrika. Sy is sedert 2001 met Pieter getroud en is geseënd met twee dogters en hul uitgebreide gesinne. Haar ma, wat as sendelingvrou talle Damesbybelstudies aangebied het, het haar aan Revive Our Hearts bekendgestel. Angie het ook begin om weekliks Bybelstudies by haar huis aan te bied. Oor die afgelope dekade het haar groep deur baie Revive Our Hearts-studies gewerk. Sy geniet dit om jaarliks ’n Revive Our Hearts-konferensie by haar kerk aan te bied. Angie is opgewonde oor vroue se rol as goddelike vroue en om te groei in hul wandel met die Here deur die bestudering van die Woord en met behulp van gestruktureerde Bybelstudies. Sy is altyd opsoek na gesellige koffiewinkels waar sy saam met vriende kan kuier. Sy hou van ’n goeie koppie koffie, asook om met haar hekelwerk te ontspan.
Kontak Angie by: AGrobler@ReviveOurHearts.co.za
|
 |
Arnel Huisamen MOSSELBAAI, SUID-AFRIKA
Arnel Huisamen en haar man, Giel, is trotse ouers van twee seuns en grootouers van vyf kleinkinders. Ná sewe-en-twintig jaar in die Suid-Afrikaanse Polisiediens as maatskaplike werker geniet Arnel nou die vreugde om besig te wees met betekenisvolle sendingwerk wat die Here op haar pad plaas. Sy het gedurende die inperking vir die eerste keer by ’n aanlyn Bybelstudiegroep van Revive Our Hearts aangesluit. Sy was aangeraak deur die boodskap van Bybelse vrouwees en persoonlike herlewing. Arnel bemoedig graag en raak opgewonde oor konneksies (connection) — om die pad saam met ander te stap op hul reis na die volle potensiaal van wie God hulle gemaak het. Sy waardeer ook goeie koffie, diep gesprekke en koffiewinkelafsprake met haar vriendinne.
Kontak Arnel by: AHuisamen@ReviveOurHearts.co.za
|
 |
|
|
|
Duduzile Hazel Masedi PRETORIA, SUID-AFRIKA
Duduzile het in ’n Christen-huis grootgeword, en haar oupa het gereeld vir haar gesê:
“So is dit goed en aangenaam vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.” (1 Tim. 2:3–4) Sy is sedert 2006 getroud en is geseënd met vier pragtige kinders. Haar hart is gerig op die vestiging van konkrete lering en die ondersteuning van vroue se begrip van wie hulle in Christus is en dat Jesus die Here van die here en die Koning van die konings is. Sy wil deur God gebruik word — as Sy werktuig, tot Sy eer.
Kontak Duduzile by: DMasedi@ReviveOurHearts.co.za
|
 |
|
Theresa Rabie LANGEBAAN, SUID-AFRIKA
Theresa het in ’n liefdevolle Christen-huis grootgeword en het op die ouderdom van dertien haar hart vir Christus gegee. Alhoewel sy die Here van kleins af geken het, het haar toegewyde wandel met Jesus eers regtig begin nadat sy in 1994 met haar man, Andre, getroud is. Saam het hulle geloof gegroei terwyl hulle in Mosambiek, Katar en Oman bedien het. Hulle het eerstehands ervaar hoe God hulle doelbewus posisioneer - dikwels in uitdagende plekke - sodat Sy heerlikheid deur hul volharding en diens geopenbaar kan word. Tydens haar stryd teen kanker is sy aan Revive Our Hearts bekendgestel, ’n bediening wat waarheid, bemoediging en ’n dieper begrip van God se getrouheid in haar lewe gebring het. Hierdie tyd was ’n keerpunt in haar geloofswandel. Haar lewensdoel is om die Goeie Nuus te verkondig en te sien hoe Christus die gebrokenes heelmaak en gevangenes vrymaak, soos so mooi in Jesaja 61 beskryf word.
Kontak Theresa by: TRabie@ReviveOurHearts.co.za
|
 |
|
Cecelia Strohfeldt BLOEMFONTEIN, SUID-AFRIKA
Cecelia is al vir meer as veertig jaar met haar man, Johann, getroud en is ma van drie en ouma van ses. Haar lewe getuig van God se herstellende krag nadat sy ’n lang pad van soms donker dieptes, maar volop genade-ontmoetings gestap het. Sy is diep bewus van die invloed van ouer vroue van geloof as rolmodelle en hoe hul lewens geslagte beïnvloed. So is haar eie roeping om vroue te dissipel, te mentor en te bemoedig gevorm, gegrond in waarhede wat deur ervaring getoets is. In 2019 is sy deur die True Woman 101-Bybelstudie aan Revive Our Hearts bekendgestel. Die studie het ’n gevoel van behoort gewek, en sy was aangetrokke tot die Christus-verheerlikende waarheid en eerbied vir God se Woord wat in elke ROH-hulpbron gevind word. Cecelia hou van die natuur, geografie en geologie, mooi boeke en rustige oggende in die Skrif. Haar lewe weerklink steeds haar belofte in 1998: Lofprysing sal die offer wees wat ek U vir die res van my lewe bring.
Kontak Cecelia by: CStrohfeldt@ReviveOurHearts.co.za
|
 |
|
Wilmie van Tonder GEORGE, SUID-AFRIKA
Wilmie is sedert 2006 met Bernard getroud en is ’n tuisblyma van twee in die pragtige dorp George aan die suidkus van Suid-Afrika. Nadat sy aan Revive Our Hearts bekendgestel is, is dit haar grootste vreugde om met ander te deel hoe God haar hart verander het deur die Woord en dissipelskap oor Bybelse vrouwees en herlewing. Haar passie is om groepe vroue, jonk en oud, by haar huis bymekaar te bring en te getuig van God se verlossende krag en die belangrikheid van dissipelskap onder vroue. Sy hou ook van koffie, fotografie, joernaalhou, musiek in al sy vorme en die strewe om ’n lewegewende tuiste vir familie en vriende te skep.
Kontak Wilmie by: WvanTonder@rohambassador.com
|
 |
|
Is jy ’n vrouebedieningsleier of ’n pastoorsvrou wat al die pyn van eensaamheid in bediening ervaar het, of die verlange gehad het dat iemand net vir jou sê: “Ek sien jou”? Die Revive Our Hearts-ambassadeurs gebruik hul tyd en talente om in vroue soos jy te belê, in die wete dat hul pogings oor en oor vermenigvuldig sal word deur jou invloed — tot eer van Christus. Leer jou ambassadeur vandag ken.
|
| Ambassadeurs video |
|
|
|
|
Gebed |
|
1. “Loof die Here, want Hy is goed; aan sy liefde is daar geen einde nie.” — Psalm 107:1
Genadige God, ons dank U vir U onfeilbare liefde wat ons elke dag dra. Ons verheug ons in U goedheid en trou, en ons bid dat elke vrou ’n hernieude belewenis van U standvastige liefde sal ervaar.
2. “Laat wat jy doen aan die Here oor, dan sal jou voornemens geluk.” — Spreuke 16:3
Here, ons vertrou elke detail van die komende vrouekamp aan U toe. Mag elke reëling, van die plek tot die program, U orde, vrede en teenwoordigheid weerspieël. Ons vra dat U struikelblokke sal verwyder, die pad gelyk sal maak en dat dit ’n byeenkoms sal wees waar U Gees kan werk.
3. “Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe: hou die werk van ons hande in stand, ja, die werk van ons hande, hou dit in stand.”— Psalm 90:17
Vader, dankie vir elke nuwe spanlid wat U by hierdie bediening gevoeg het. Seën die woorde wat hulle deel, die hande waarmee hulle dien en die harte wat bedien. Mag alles wat hulle doen deur U Gees gelei word.
|
 |
|
|
|
|