Share

Junie 2026


Tien jaar van genade, voorsiening en Goddelike leiding

“Loof die Here, want Hy is goed.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Loof die oppermagtige God.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Loof die magtigste van alle maghebbers.

Aan sy liefde is daar geen einde nie.

Hy het magtige dade gedoen, Hy alleen.

Aan sy liefde is daar geen einde nie”

(Psalm 136:1-4, Afrikaans 83).


Ons Vader, ons wil saam met die Psalmdigter sê:

U het Revive Our Hearts South Africa tot stand gebring en vir tien jaar voor ons uitgetrek. Aan U liefde is daar geen einde nie.

U het alles voorsien wat ons nodig gehad het om die bediening te laat groei. Aan U liefde is daar geen einde nie.

U het vrouens se harte sowel as gesinne deur die bediening aangeraak. Aan U liefde is daar geen einde nie.

U het vrywilligers bygevoeg wat U met hart en siel dien. Aan U liefde is daar geen einde nie.

Jesus, U is die middelpunt van alles wat ons doen. Aan U liefde is daar geen einde nie.

U is ons Koning en die Leier van die bediening en ons eer U. Aan U liefde is daar geen einde nie.


Op 29 Mei 2015 het ses vriendinne bymekaargekom vir die beplanning van ‘n nuwe vrouebediening in Suid-Afrika. Op 10 Junie 2016 is ROH SA geregistreer. Die vroue was Retha de Villiers, Marisa Badenhorst, Mercia van der Merwe, Leanie de Korte, Jackie Arndt en Marinda Prinsloo. Intussen het die span tot ses-en-twintig vroue en twee mans gegroei. Behalwe vir ‘n paar gekontrakteerde persone, is die meeste spanlede op ‘n vrywillige basis betrokke.


In die tien jaar was daar baie hoogtepunte, waarvan ek graag drie wil uitlig:

  • Die Come to the Well-konferensie in 2019 waartydens Nancy DeMoss Wolgemuth en Dannah Gresh as sprekers opgetree het;

  • Die viering van ons sesde verjaarsdag in 2022 met ‘n Bible Read-a-thon. Tydens dié geleentheid het ons die Bybel in 72 uur saam met ons internasionale vriende op die Zoom-platform deurgelees;

  • Die viering van ons tiende verjaarsdag op 4 Junie 2026 was ‘n 24-uur-gebedsgeleentheid met die tema: “Into His Presence”. Ons het die Here se seën op ‘n baie spesiale manier ervaar, en ons glo ons sal die vrug daarop in die volgende seisoen van ROH SA sien.


Ek wil hierdie Lewensaadjie afsluit deur my opvolger as direkteur van ROH SA, Theresa Rabie, baie seën toe te wens met die nuwe rol wat sy vanaf 1 Julie gaan inneem. Theresa, ek bid vir jou Psalm 40:9: “Om U wil te doen, my God, is my een begeerte, U Woord is my hele lewe” (Afrikaans, 83).


Retha de Villiers


Theresa Rabie, die nuwe Direkteur van ROH SA



 ROH SA vier 10 jaar!

Into His Presence: 24-uur-gebedsviering  



Revive Our Hearts SA het hul tiende verjaardag met ’n 24-uur-gebedsgeleentheid gevier. Die viering het Donderdagoggend 4 Junie om vyfuur afgeskop en is Vrydagoggend 5 Junie om vyfuur afgesluit. Dit was tot dusver sonder twyfel een van die hoogtepunte van die jaar!


Die geleentheid is met Skrifgedeeltes uit Esegiël 47 geopen. Ons het die Here vertrou dat die water van Sy lewegewende rivier deur die hele geleentheid sou vloei. Die ure is gevul deur Skriflesing, gebed, bekering, danksegging, smeking, voorbidding, hartsversugtinge en opregte gemeenskap van gelowiges. Die teenwoordigheid van die Heilige Gees was duidelik tasbaar. 


Tydens die 24 uur het ons oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe gebid. Vriende van ander bedieninge wat oor die jare deel van ons reis was, is genooi om deel van die geleentheid te wees. Sommige van hulle het selfs van die sessies gelei. Dit was waarlik ’n geleentheid van viering en dankbaarheid. 


Ons het wonderlike terugvoer en getuienisse ontvang. Alle eer aan God alleen vir die seën wat ons gedurende hierdie 24 uur ervaar het. Ons is geestelik verkwik, en ons span se harte loop oor van dankbaarheid wanneer ons na hierdie besondere geleentheid terugkyk. 


Ons is herinner aan die belofte in Jakobus 5:16: “Bely julle sondes teenoor mekaar en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. Die gebed van ’n regverdige het ’n kragtige uitwerking.” Ons dank die Here vir elke vorm van genesing wat tydens die geleentheid ervaar is en vertrou Hom vir die kragtige vrug wat hieruit sal voortvloei.


Aan ons Koning van alle konings kom al die eer vir hierdie gebedsviering toe. Alle eer aan Hom alleen vir tien jaar van bediening!


Die openingsessie met lofprysing en danksegging (Donderdag 4 Junie 05:00-06:00)


Gebed vir die Wonder van die Woord-projek (Vrydag 5 Junie 02:00-03:00)


Onderwerpe van die gebedsessies 

Getuienis:

Een van ROH SA se “Seeking Him”-vertalers skryf:

“Ek was gisteraand so geseën deur die Skrifgedeeltes wat julle gedeel het, veral uit Haggai 1:5-9. Die Gees van die Here het my diep aangeraak. Ek het baie geleer oor goeie orde en struktuur in my kerk, maar ek besef daar is steeds meer. Ek verlang daarna om meer te groei.

Ek wou so graag meer wou deelneem, maar die netwerk het my weens die reën in die steek gelaat. Tog was ek vanuit my perspektief ongelooflik bemoedig en gemotiveer. Sjoe! Dit is ’n groot voorreg om mense soos julle by Revive Our Hearts te hê. Ek is werklik geseënd. Ek dank die Here!”



Revive Our Hearts South Africa vier 10 jaar!

Vanjaar vier ons ’n dekade van God se getrouheid, genade en transformerende werk in die lewens van vroue regoor Suid-Afrika en selfs verder.

Terwyl ons hierdie besondere mylpaal vier, hoor ons graag van jou!

Het Revive Our Hearts SA ’n verskil gemaak in jou lewe, huwelik, gesin, bediening of wandel met die Here? Het jy ’n getuienis, spesiale herinnering, woord van bemoediging, foto of boodskap wat jy graag wil deel?

Vier saam met ons tien jaar van God se goedheid deur jou storie met ons te deel. Jou getuienis kan ander bemoedig en ons help om te onthou wat die Here deur die jare gedoen het.

Stuur asseblief jou bydrae aan: sainfo@reviveourhearts.co.za



Oorweeg dit biddend om finansieel by te dra tot ’n bediening wat vroue help om in Christus se vryheid, vervulling en vrug te wandel.

Om ’n skenking te maak, kliek op hierdie skakel https://reviveourhearts.co.za/donate/ of gebruik die bankbesonderhede hieronder:

 

Revive Our Hearts SA

ABSA

BRANCH 632005

Current account 4093005837

Verwysing: 10 jaar

"Die een geslag sal aan die volgende vertel van u magtige dade en u groot werke verkondig" (Psalm 145:4, Afrikaans 83).


'n Uitnodiging!

Ons nooi jou uit: Kom maak ‘n verskil met die nuwe generasie vroue in ons land – ‘n “God-sized” projek


Ons is diep bewus van ‘n baie sensitiewe stadium in elke vrou se lewe: die oorgang van ‘n tiener tot ‘n volwasse vrou met verantwoordelikhede teenoor ‘n man en kinders. Hierdie is ‘n seisoen waar ‘n jong vrou belangrike keuses oor haar eie waardes moet maak – keuses wat uiteindelik ‘n baie groot invloed op haar toekomstige gesin gaan hê.


Die nuwe boekie van ROH, Called to Thrive: Finding Freedom, Fullness, and Fruitfulness in Christ, is ‘n ideale hulpbron wat ‘n jong meisie op die pad na volwassenheid kan help.


Ons droom is om hierdie boekie vir elke jong meisie wat hul finale matriekeksamen aflê, as geskenk te gee. Ja, jy het reg gehoor! Dit is ‘n BAIE GROOT droom, of in Engels gesê: ‘n “God-sized vision”.

Die boekie is reeds na Afrikaans vertaal. Geroep om te floreer: Vind vryheid, vervulling en vrug in Christus sal eersdaags beskikbaar wees.


Voor in die boekie is ‘n Linktree QR-kode wat die leser kan help om toegang tot al ROH se Woordgefundeerde hulpbronne te kry.

Lees meer oor die boekie hier:


Thrive Boekie



Ons wil jou uitnooi om deel te word van hierdie “God-sized” projek. Jy kan op die volgende maniere betrokke raak:

  • Ons het mense nodig wat as kontakte by skole kan dien. Dit kan byvoorbeeld ma’s of onderwyseresse wees wat by die skool betrokke is en ‘n geleentheid kan skep waar boekies as geskenke uitgedeel word.

  • Ons benodig finansies om die boekies te druk en te versprei. Hoewel ons reeds ‘n groot donasie vir die druk van die eerste 5 000 boekies ontvang het, is dit nog net ‘n druppel in die emmer van dit wat ons graag sal wil uitdeel.

  • Ons het mense nodig wat geroep voel om vir hierdie projek te bid.

Indien wat jy nou gelees het jou opgewonde maak, bid asseblief daaroor, en kyk of hierdie projek tot jou spreek. Indien wel, kontak ons by sainfo@reviveourhearts.co.za . Indien jy ‘n donasie maak, stuur asseblief jou besonderhede dat ons vir jou terugvoer oor die projek kan gee. Ons finansiële vennote is vir ons baie belangrik.


Revive Our Hearts SA

ABSA

BRANCH 632005

Current account 4093005837

Verwysing: Thrive-projek



Wonder van die Woord-projek (WoW)

Die ROH SA-span is opgewonde om terugvoer te gee oor die groot voorreg wat dit is om aan hierdie projek te werk. Hoewel die projek nie sonder uitdagings is nie, ervaar ons voortdurend die Here se getrouheid. Ons het voor enkele tegniese uitdagings te staan gekom, maar met tyd en moeite het ons ’n maatstaf daar gestel waarteen alle toekomstige opnames gemeet kan word. Ons met dankbaarheid getuig dat ons onsself tans op ’n goeie plek bevind. Aan God al die eer!

Tydens die 24-uur-lof-en-aanbiddingsviering het Nancy de Moss Wolgemuth en haar span vir ’n uur by ons aangesluit om saam met ons te bid. Wat ’n bron van seën en bemoediging was sy nie vir ons span nie!


Vordering van die projek:


Gebedsversoeke: 

WoW Suid-Afrika

Bid vir:

  • God se seën oor die hele projek en proses;

  • die voortsetting en voltooiing van die redigering en opnames van die boodskappe binne die gestelde tydraamwerk;

  • die leiding en invloed van die Heilige Gees op die projekspan deur die hele proses;

  • Goddelike wysheid, onderskeiding, vaardigheid, krag, volharding en alles wat die span nodig het; en

  • 'n begeerte onder vroue om in 2027 deel te neem. Bid vir die voorbereiding van elke hart wat vanaf Januarie 2027 deur die inhoud gaan werk. Mag ons almal God beter leer ken vir WIE HY IS.

Dank die Here vir elke spanlid wat sy of haar taak getrou en met uitnemendheid uitvoer. “Ons is immers sy maaksel, geskep in Christus Jesus om goeie werke te doen wat God vooraf voorberei het, sodat ons daarin kan wandel” (Efesiërs 2:10, Afrikaans 83).


WoW VSA

Ons het God nodig om die projek goed en suksesvol af te handel.

Bid dat:

  • God baie meer deur hierdie projek sal doen as wat ons ooit kan dink of bid. Ons wil God se heerlikheid onder die nasies verkondig en sy wonderdade aan alle volke bekend maak (Psalm 96:3, Afrikaans 83).

Bid vir:

  • Die WoW Kids-projek wat stemkunstenaars benodig;
  • die langtermynimpak van die leringe op toekomstige geslagte; en
  • finansiële voorsiening vir die WoW-projek.


Ons loof die Here dat ongeveer 60% van die opnames reeds voltooi is.


Bid vir Nancy terwyl sy vir die res van die reeks voorberei. Bid vir:

  • leiding deur die Heilige Gees;

  • duidelikheid en insig;

  • beskerming teen geestelike stryd; en

  • volharding om die taak te voltooi.



Revive Our Hearts South Africa se Nuus is binne jou bereik.

Linktree (Waar om ons te vind | Kontakbesonderhede)

Het jy geweet dat Revive Our Hearts South Africa op verskeie platforms beskikbaar is?

Skandeer die QR-kode hieronder om toegang te kry tot al ons skakels en kontakbesonderhede, of besoek die volgende skakel:

https://linktr.ee/ReviveOurHeartsSA



Gebed


"Waar die stroom kom, sal alles lewe" (Esegiël 47:9b, Afrikaans 83).

"Weerskante op die wal van die stroom sal allerlei vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verlep nie en hulle vrugte sal nie opraak nie. Hulle sal elke maand dra, want die stroom se water kom uit die heiligdom. Die vrugte sal daar wees om te eet en die blare om genesing te bring” (Esegiël 47:12, Afrikaans 83).


  • Ons dank die Here vir die rivier van lewende water wat lewe tydens ons gebedsviering gebring het. Mag die vrug op elke gebed wat gebid is, sigbaar word en genesing bring waar dit nodig is.
  • Ons vertrou die Here steeds dat ons hulpbronne, mense en gemeenskappe sal bereik wat honger is na die Waarheid en dat daar vrug sal wees op elke boek wat verkoop en versprei word.
  • Ons dank die Here vir die voorsiening wat ontvang is vir die druk van die eerste Thrive-boekies. Ons vertrou Hom steeds vir finansiële vennote wat dit moontlik sal maak om elke matriekdogter in Suid-Afrika te bereik.
  • Ons dank die Here vir die volgehoue en getroue werk wat aan die Wonder van die Woord-projek gedoen word. Mag die Here hierdie span versterk, onderhou en in elke behoefte voorsien sodat hulle met vreugde kan voortgaan.
  • Ons dank die Here vir Retha wat hierdie bediening vir tien jaar met toewyding en wysheid gelei het. Die aflosstokkie is aan Theresa oorgegee, en ons bid dat die Here ons span tydens hierdie oorgang na nuwe leierskap sal omvou beskerm en begenadig met meer van Hom.

Copyright © 2025 Revive Our Hearts South Africa

 Revive Our Hearts South Africa, Loschplace 13, Moreletapark, Pretoria, Gauteng 0044, South Africa
All rights reserved.

sainfo@reviveourhearts.co.za 
Unsubscribe/Uitteken

Email Marketing by ActiveCampaign